Ons verhaal

Van Durban se stadsaalkelder tot Dolfynkus

’n Verhaal van byna ’n eeu waarin mense, plekke en seisoene verander het, maar God se trou die gemeente bly dra het.

  1. ’n Klein begin in Durban

    Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Durban word op 23 April in die kelder van die stadsaal gestig. Ds A.R. Smit word die eerste predikant.

  2. ’n Tuiste kry vorm

    Die eerste pastorie word in Frereweg gekoop, die Noorseegsaal word die eerste aanbiddingsplek en die kerk in Jameson Singel word op 19 en 20 Mei 1951 ingewy.

  3. Groei en stabiliteit

    Verskeie leraars bou op die vroeë grondslag voort. Nuwe gemeentes ontstaan uit Durban en Ds Thomas Dreyer begin in 1981 met ’n bediening wat 36 jaar sou duur.

  4. Die beweging noord

    Lantern Aftreeoord word in Durban-Noord gevestig. Met Ballito se groei skuif die gemeente al meer noord; in 2017 word die Jameson Singel-kerk verkoop.

  5. Die naam Dolfynkus

    Ds D.S. Jacobs word in 2018 bevestig en die Ballito-gemeente neem die naam Dolfynkus aan. Ná Ds Dawie se siekte lei Ds Jan Kay die gemeente deur ’n tyd van verandering.

  6. Weer begin ons in ’n kelder

    Op 18 Januarie begin eredienste in die Pumpkin Teater in La Montagne Hotel se kelder — ’n besondere weerspieëling van 1927. Ds Denise Schmidt word op 8 Februarie as predikant van Dolfynkus bevestig.

Die volledige geskiedenis

Die eerste dekades

Toe die gemeente in 1927 begin het, was daar ongeveer 6 000 Afrikaners in Durban, van wie 140 Hervormers was. Ds Smit is op 9 Julie 1927 bevestig en het Durban en Pietermaritzburg saam bedien.

Ds P.W. Venter het in 1934 na Durban gekom. Ná die beëindiging van die kombinasie met Volksrust kon ’n motor vir langafstand-huisbesoeke aangekoop word. Prop S.P. Viljoen het later die eerste dienste in Port Shepstone begin hou, waarna Ds Huyser die gemeente bedien het.

Onder Ds P. Labuschagne is dienste vir die eerste keer in Pinetown gehou. By die Noorseegsaal se inwyding het oudl. Hennie Burger as orrelis begin — ’n rol wat hy 50 jaar lank vervul het.

’n Gemeente oor geslagte

Ds J.M. Fourie het van 1954 tot 1962 gedien en is deur Ds J.F. Mouton en Ds F.J.H. Buitendach opgevolg. Durban-Suid het in 1958 ’n eie gemeente geword. Ds L.J.J. Nell, Ds T.F.J. Dreyer, Ds P.M. Venter en Ds H.C. van der Merwe het in die daaropvolgende jare voortgebou.

Families oor twee en drie geslagte het diep spore in die gemeente getrap. Die grootste dank gaan aan ons Hemelse Vader vir sy genade deur al die jare.

Dolfynkus in Ballito

Ná die verkoop van die Durbanse kerkgebou in 2017 het ongeveer 40 lidmate saam met Ds Dreyer en mev. Christina in Ballito voortgegaan. Ná verskeie tydelike aanbiddingsplekke het die gemeente opnuut koers gevind in die Pumpkin Teater.

Op 23 April 2026 vier die gemeente 99 jaar van saamwees met God — gewortel in ’n ryk geskiedenis en gerig op ’n nuwe toekoms.