← Alle preke

Pinkster en Koninkrykstyd

Dank vir God se getroue voorsiening

Predikant / spreker: Ds Denise Schmidt

Inleiding tot die preek

Kyk die inleiding op Facebook ↗

Preekteks

Nehemia 8:13 -19 Afr2020 vertaling

Tema: Dank vir God se getroue voorsiening Biddag vir die gesaaides en die dankdag vir die oes.

Agtergrond

Die Ou Testamentiese fees waarna Nehemia 8 verwys , is die Huttefees wat ook bekend staan as Sukkot.

Sukkot Loofhuttefees is ’n vrolike Joodse fees van sewe dae wat jaarliks in die herfs ongeveer September of Oktober gevier word, na die insameling van die oes.

Dit begin vyf dae ná Jom Kippoer, (Dag van Versoening is saam met Sabbat die heiligste dae in Judaïsme)

op die 15de dag van die Joodse maand Tisjrei

Dit is sowel 'n historiese herdenkingsfees as 'n dankfees vir die vrugte- en oesopbrengs aan die einde van die landboujaar.

Dit herdenk die 40 jaar lange swerftog van die Israeliete in die woestyn ná die uittog uit Egipte, waartydens hulle in tydelike hutte of tente moes bly.

Skriflesing

Huttefees

13 Toe gaan die hele volk uit om te eet en te drink en om uit te deel, en om met groot vreugde fees te vier, want hulle het die woorde verstaan wat aan hulle bekend gemaak is.
14 Op die tweede dag het die familiehoofde van die hele volk, die priesters en die Leviete, by Esra, die skrifgeleerde, byeengekom om insig te kry in die woorde van die Wet.
15 Hulle ontdek toe, opgeteken in die Wet wat die Here by monde van Moses beveel het, dat die Israeliete in hutte moet woon tydens die fees in die sewende maand.
16 Hulle moes dit bekend maak. Hulle moes 'n boodskap deur al hulle dorpe en Jerusalem stuur: “Gaan uit na die berge, en bring takke van olyfbome, wilde-olyfhoutbome, mirtebome, dadelpalms en die takke van welig groeiende bome, om hutte te maak, soos daar geskryf staan.”
17 Die volk het toe uitgegaan, dit ingebring en vir hulleself hutte gemaak, elkeen op sy dak, in hulle binnehowe of in die voorhowe van die huis van God, en ook op die plein by die Waterpoort en die plein by die Efraimspoort.
18 Die hele geloofsgemeenskap, dié wat teruggekeer het uit die ballingskap, het hutte gemaak en in die hutte gewoon. Ja, sedert die dae van Josua, seun van Nun, tot op
daardie dag het die Israeliete dit nog nooit so gedoen nie. Daar was baie groot vreugde.
19 Esra het dag vir dag, van die eerste tot die laaste dag toe, voorgelees uit die boekrol met die Wet van God. Hulle het sewe dae lank fees gevier, en op die agtste dag was daar volgens voorskrif 'n gewyde rusdag.

Inleiding

Ons dink vandag saam:

  • Waar versorg God ?
  • Watter hardewerk en hoeveel sweet het vir jou ‘n oes gelewer?
  • Hoe lyk die resultate?
  • Of dalk smeek ons vandag by God om te help, om te versorg, om te voorsien.
  • Miskien is die smeekgebed om in te gryp!

Hoofdeel

Nehemia 8:14-18 fokus op die herontdekking en viering van die Huttefees as 'n simbool van hernuwing en gehoorsaamheid.

Die teksgedeelte beskryf dat die die muur van Jerusalem voltooi is na 52 dae se bouwerk.

Almal het teruggekeer na hulle tuistes.

Vyf dae later het die hele volk soos een man bymekaargekom in Jerusalem soos die Wet hulle beveel het (Lev 23:24) om ’n spesiale Sabbat vir die Here te vier.

Die volk vra Esra om vir hulle uit die Wet van Moses te lees. Hy doen dit die dag omtrent ses uur lank.

Van ligdag af tot in die middel van die dag.

Met ‘n uitvoerige uitleg daarvan deur ‘n span priesters wat hom help.

Die “hele volk het met gespitste ore geluister na die boekrol met die Wet”. Hulle harte en verstand was gefokus op die woorde uit die boekrol.

:4 Hy het, vandat dit lig geword het tot die middel van die dag toe, daar voor die plein by die Waterpoort daaruit voorgelees vir die mans en vroue en dié wat kon verstaan. Die hele volk het met gespitste ore geluister na die boekrol met die Wet.

Letterlik staan daar: “die ore van die hele volk was op die boekrol, die Wet.

Met die aanhoor van die Wet van Moses se eise en voorskrifte was die volk egter hartseer gestem, omdat hulle op soveel wyses nie gehoor gegee het aan God se voorskrifte nie.

Die vreugde fees het ‘n aantal kante gehad:

  1. Agtertoe kyk: Dit herinner aan God se getroue sorg en beskerming tydens die 40 jaar in die woestyn toe Israel in brose hutte gewoon het. Toe hulle van plek tot plek gereis het.
  2. Vorentoe kyk: Dit was 'n oesfees om God te dank vir die huidige seëninge en sy ewige koninkryk. So ook om in toewyding en met gehoorsaamheid voor God te leef.
  3. Hier en nou: God se versorging en voorsiening is ook bedoel vir nou, vir vandag. God wat elkeen se oes bewaar. God wat elkeen se lewe bewaar.
    • Waar is God nou besig in jou lewe?
    • Waar sien jy God se hand?
    • Waar sien jy lewe en groei met die wete dat dit net God kan wees?

Hoe ernstig is ons oor ‘n toegewyde lewe voor die Skepper van hemel en aarde?

Die teks vermeld dat die volk dit sedert die dae van Josua (die seun van Nun) nie weer met só 'n gemeenskaplike- saam oorgawe en gehoorsaamheid gevier het nie.

Dit lei tot "baie groot blydskap".

Gemeentes, families, gesinne word opgeroep om in gehoorsaamheid en vreugde te leef.

Om God as Voorsiener te eer

Om nie afgestomp te wees en God as Gewer van alle goei gawes mis te kyk nie. Om nie met ‘n houding van selfsprekendheid te leef nie.

Gaan vier fees, gaan verheerlik God.

Sê dankie met hertoewyding en gehoorsaamheid.

Kyk na jou handerwerk, hardewerk deur God se krag en loof Hom.

Getuig van jou seëninge op die markplein, in die strate oral waar almal moet hoor. van God se getroue voorsiening.

Vraag

  • Wat is die gesaaides waarvoor jy vandag tot God wil bid?
  • Wat staan op jou lande?
  • Wat gebeur in jou lewe wat jy aan God wil wy?
  • Hoe lyk die spesiale Sabbat wat jy tot eer van God wil vier?
  • Wat staan op lys van dankbetuiging?