Pinkster en Koninkrykstyd
“Leef vorentoe”
Inleiding tot die preek
Kyk die inleiding op Facebook ↗Preekteks
Filippense 3:4-14 Afr1983 vertaling
Tema: Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.
Inleiding
Wat hou jou terug om nie vorentoe te kan leef nie?
Wat is die gewigte om jou enkels wat keer dat jy soos ‘n atleet die wedloop kan klaarmaak nie?
Watter remme bring jou lewe se spoed af?
Wat verlam jou om gemotiveerd te beweeg?
Skriflesing
3 Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.
4 Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer:
5 ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër,
6 in my ywer 'n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.
7 Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus,
8 ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry
9 en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat 'n mens in Hom glo.
10 Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,
11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
12 Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.
13 Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.
14 Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.
Oorgang
Paulus skryf met soveel oortuiging.
Wat vroeër vir hom belangrik was, dra nou geen gewig meer nie.
Wat vroeër getel het, ag hy nie meer nie.
Wat tevore sy roem was, beskou ek nou as skadelik.
Wat vroeër vir hom sin gegee het, het nou in onsin verander.
En die rede daarvoor is glashelder.
Dit is Christus wat die verskil gemaak het, omdat Christus 'n nuwe sin gee.
Volgens menslike, uiterlike standaarde, was Paulus beslis iemand, met wie gereken moes word." Paulus beskou egter al hierdie uiterlike ding soos afkoms, opvoeding en oorgeërfde godsdienstige deugde, asook eie godsdienstige prestasies en aktiwiteite nie meer as geestelike bates nie, maar as geestelike laste.
Sy waarde lê in Christus.
In Christus, in daardie ontmoeting op die Damaskuspad, het God hom 'n nuwe naam gegee en daarmee saam 'n nuwe lewe. Nuwe begin en ‘n nuwe opdrag.
Wat beteken dit vir Paulus? Twee dinge:
Om in die eerste plek die krag van Christus se opstanding te ken, wat beteken dat dit baie dieper is as 'n klomp kop-kennis en persoonlike toekennings. Dit is nie intellektuele insig nie. Dis nie amptelike erkenning, lof of pryse vir uitmuntende prestasie nie. Dis Christus die Gekruisigde, en nie die fanatiese onderhouding van die wet met blinde, rigiede of buitensporige gehoorsaamheid aan reëls of godsdienstige voorskrifte nie. Slegs Christus die opgestane Heer.
Dit is die lewende ervaring , ‘n ontmoeting met die lewende God.
Maar om Christus te ken, beteken in die tweede plek vir hom ook om kennis van Christus se lyding te dra.
Paulus druk dit só uit: Dit is om deel te hê aan sy lyding, soveel so dat dit beteken om aan Hom gelyk te word in sy dood.
Paulus verduidelik hoe hierdie groeiproses in die kennis van Christus eintlik werk. Hy wys daarop dat hy dit self nog nie alles verwesentlik het nie.
Hy beskryf dit aan vir die gemeente in Filippi, om Christus te ken, is nie 'n eenmalige en afgehandelde saak nie. Dit is 'n pad waarop God jou plaas.
`n Reis waar daar in afwagting daagliks gesoek word na die manier waarop God jou vandag gaan lei.
Hierna verduidelik Paulus dit in sy persoonlike lewe soos volg: "Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus."
Dit is in dié verband wat Paulus tog vir ons bemoedig met wat hy sê: "om Christus te ken, is ook om die krag van sy opstanding te ken, om te weet dat Hy my reeds Syne gemaak het."
Ons moet begryp dat die oproep om Christus te volg nie 'n oproep tot "gemaksug" is nie. Ons word eerder geroep tot 'n bepaalde soort "onsrustigheid", 'n oproep om voort te gaan op die geloofspad. ‘n Ongemaklike pad, ‘n moeilike wedloop wat met baie sweet en toewyding voltooi word.
Paulus se enigste oogmerk was om Christus te ken, Hom na te volg en om alles te doen waartoe Christus Jesus hom roep, want Christus het Paulus op die Damaskuspad gegryp.
Hierdie verhouding met Christus oortref alle ander bronne van status, sekerheid en voordeel.
Daarom het Paulus hom ingespan om hierdie oogmerk te bereik.
Soos ’n atleet, gefokus en doelgerig met die einddoel van alles wat Christus vir hom bedoel het, in die oog
Dit is wat geestelike volwassenheid is, nie om volmaaktheid te bereik nie, maar om só te hardloop.
Vraag
Voordat jy kan hardloop, waarvan moet jy jouself losmaak?
Ek maak my los van wat agter is.
Ek verwyder die blokke, remme, foute en leuens.
Ek strek uit na wat voor lê om die hemelse prys te behaal.
Is ons atlete vir Christus of mense uit op ’n pretdraf?