Pinkster en Koninkrykstyd
Jesus Christus is Koning
Preekteks
Lukas 23:33-43
Tema: Jesus Christus is Koning
33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. 35Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” 36Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle nader staan en vir Hom suur wyn aanbied, 37met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” 38Bokant Hom was daar ook 'n opskrif:
“Hy is die koning van die Jode.”
39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom aanhoudend gelaster en gesê: “Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself, en ons!” 40Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! 41In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!” 43Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Notas
Die laaste Sondag van Koninkryktyd kondig ook die einde van die kerklike jaar aan en staan bekend as Sondag van Christus die Koning.
Dit is die oorgang na Adventstyd en herinner ons daaraan dat Christus die Koning ook die Here is wat weer in heerlikheid sal kom.
EwigheidSondag
Ons dink aan geliefdes wat in die afgelope tyd oorlede is. Ons dink aan die dood en opstanding van Jesus Christus en elke gelowige se opstanding in Christus.
Jesus word gekruisig en bid vir sy vervolgers: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie."
Twee misdadigers – waarskynlik rowers of diewe (vgl. Mrk 15:27; Mat 27:44) – word saam met Jesus geneem na die plek wat Skedel genoem is – Golgota om gekruisig te word. Jesus word in die middel van dié twee gekruisig, een aan sy regterkant, en een aan sy linkerkant.
Die leiers was meer spraaksaam en het Jesus uitgelag vir sy swakheid in hulle oë.
Hy wat bekend gestaan het as die Messias van God, die Uitverkorene, wie se missie dit wat om ander te red, kon nou Homself nie red van die dood nie. Ook die soldate het hulle spottery voortgesit deur Hom aan te por om sy Koningskap te bewys – dit terwyl hulle oor sy klere dobbel.
Dan verskuif Lukas ons aandag na die eerste misdadiger.
Die het Jesus ook soos die soldate beledig.
As Hy dan die Christus, die Messias, is, laat Hy Homself dan red, ook die ander wat saam met Hom daar gehang het.
Hierdie gedeelte herinner elkeen aan die Adventlied:
Die Lig kom na die wêreld
in Jesus Christus, Heer.
Uit liefde vir die mensdom
daal Hy as dienskneg neer.
So lief het God die wêreld,
Hy gee vir ons sy Seun –
só word Hy ons Verlosser,
ons Middelaar en Steun.
Boodskap
Die wêreld meet koningskap aan mag, oorwinning, hoogste trap en selfbehoud.
Lukas wys dat Jesus se koningskap juis deur liefde, selfopoffering, vergifnis en genade in gelowiges en die wêreld gebeur.
Gelowiges vier Jesus as die ware Koning en Verlosser wat Homself aan die kruis gegee het vir elkeen. Die vernedering en onskuld betyaal elke gelowige se sonderekening af.
Daarom word met verwagting uitgesien na sy wederkoms
Elkeen wat bely dat Jesus Christus die Messias is, leef in afwagting op die ontmoeting met Hom.
Die simbole van Christus is Koning Sondag herinner die Kerk aan Sy Majesteit.
Goud & kroon:
Jesus regeer as Koning van alle konings met onwankelbare gesag.
Sy gesag en koningskap is onmeetbaar.
Christus se koningskap word uitgejubel met: Majesteit, glansryke heerlikheid. Ons wil Jesus, die Koning hulde bewys.
Kruis:
Hy is ’n dienende Koning wat Homself uit liefde vir sy kinders en Koninkryk gegee het.
Die kruis dwing gelowiges tot verootmoediging en ons bely: Aanskou die Heiland, sien die kruis. Die Hemelvors, verag, vergruis. Vir my het Hy Hom daar laat hang. Hy leef, Hy sterf - in my belang.
Wit & brandende kers:
Dit dui op die hoop en verwagting vir Christus se wederkoms. Johannes 14:2–3, waar Jesus sy dissipels bemoedig met die belofte dat daar plek in sy Vader se huis is. In die Afrikaanse 1983-vertaling lui vers 2: "In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.”
Appėl
Vandag se diens fokus op die aard van Jesus se koningskap aan die kruis. Asook die kontras tussen bespotting en ware geloof, genade tot in die laaste oomblik en ‘n ongelowige wat to insig kom en op die nippertjie gered: “vandag sal jy saam My in die paradys wees”
Mense kan fisies naby die kruis staan of godsdienstig betrokke wees, sonder om Jesus werklik as Koning te erken en te leef.
Vrae
Kyk ons na Jesus as ’n gerieflike redder vir eie voordeel, of as Koning oor ons hele lewe?
Wie is Christus die Koning van die eeue vir jou?
Hoe leef ons?
Vir MY is dit my KONING en my REDDER!
Gebed
Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee alles wat ons nodig het om volheid te leef.
Ons verheerlik U.
Ons aanbid U.
Here ons God, ons roep vandag die lewe van u Seun Jesus Christus in herinnering,
Sy lyding en Sy dood aan die kruis, maar veral ook sy triomf oor die dood en Sy Koningsheerskappy.
Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem wees ons genadig. Ontferm U oor ons.
Amen.